Aanvallers moenie kwytgeskeld word, sê slagoffers –

  • Written by  www.dieburger.co.za – Philda Essop
  • Published in In the News
  • Read 5978 times

Aanvallers moenie kwytgeskeld word, sê slagoffers

Kaapstad – “Ek kan nie toesien dat daardie mense vrygespreek word nie. Ek het álles weens daardie aanval verloor.” Dit is 13 jaar later, maar die bitterheid lê nog vlak in mnr. Pietie Felix van Victoria Park in Worcester se stem. Sy dogter, Bianca (toe 8), en sy suster, Marilene, was saam in die winkel toe twee bomontploffings die plaaslike Shoprite-tak op Oukersdag in 1996 geruk het.

Die aanvallers wat skuldig bevind is vir dié aanval – Daniël Stephanus (Stefaans) Coetzee, Nicolaas (Cliffie) Barnard en Abraham (Koper) Myburgh – is onder die 149 mense wat vir presidensiële kwytskelding aanbeveel is.

Die departement van justisie het gister dié name landwyd in koerante gepubliseer vir slagoffers en ander belanghebbendes om kommentaar daarop te lewer. Pres. Jacob Zuma sal ag slaan op dié kommentaar.

“Ek moes betaal vir Bianca se veloorplanting en ander mediese onkoste. Ek het nie ’n sént van die regering ontvang nie. Gelukkig het my suster niks oorgekom nie. Ná die aanval het my hele lewe verander. Ek het my huis, motors én my vrou verloor. Ek is gekant daarteen dat die aanvallers vry kom. Ek wil nie eers my gevoel op papier neerskryf vir die president nie. Wat sal dit in elk geval help?”

Me. Olga Macingwane, nog ’n slagoffer, het verlede jaar na Pretoria gereis om met Coetzee in die tronk te gaan praat.

“Ek het hom vergewe. Wat my opgeval het, was hoe jonk hy is. Hy was net 18 ten tyde van die voorval. Hy het vertel watter haat hy vir swart mense gehad het, maar dat hy verskriklik jammer was oor die aanval.”

Dié inwoner van Zwelentemba, wat voor die aanval as ’n huishulp gewerk is, is ná die aanval verplig om haar werk te laat vaar omdat sy nie meer vir lang tye op haar bene kan staan nie. “Ek het Stefaans vergewe, maar het geen kontak met die ander aanvaller gehad nie. Ek kan hulle nie vergewe nie.”