
“Dit maak nie saak wat jy eet nie, maar saam met wie jy dit eet.”
Op 19 Oktober 2019 het die mans van Worcester hierdie boodskap op hul papierborde gelees – kleurvol geskryf deur die kinders van die dorp. Maar dié naweek was hulle nie daar om bloot woorde te lees nie: hulle was daar om hierdie woorde te leef. Twee-twee het die mans vir mekaar hamburgers voorberei; en daar, tussen blaar-slaai en beesvleis, het ’n dieper voeding gelê as die voeding van die vlees. Daar, in die bediening van die medemens, het ’n sappige les in liefde gelê.
Die mans se byeenkoms was deel van die “Keerpunt vir Worcester” veldtog wat van 18–20 Oktober plaasgevind het, en wat in die hart van een gewone Worcesteriet begin het. Hugo Killian is ’n finansiele bestuurder vir ’n vervoer maatskapy in Worcester. Een dag het hy die program “Keerpunt” op VIA Tv gekyk. Daar het hy vir Stefaans Coetzee, asook van sy slagoffers, sien praat: Stefaans Coetzee, wie amper 23 jaar gelede, in Hugo se eie dorp, deel was van ’n bomplanting wat talle lewens onherroeplik verander het. Stefaans Coetzee, wie in die tronk tot bekering gekom het en, deur die genade van van sy slagoffers, die betekenis van vergifnis en liefde ontdek het.
“Die program het my regtig baie diep geraak, op so ’n manier dat ek die boek Wit Wolf van Stefaans gaan koop het,” vertel Hugo. “Sy storie getuig van hartseer, verkeerde keuses, hoop, vergifnis en twee belangrike aspekte – hoe die Here sy lewe kon verander het, asook die krag van leef liefde. Die verhaal wys die reuse positiewe impak wat liefde in die wêreld kan hê en herinner ons om meer vrygewig te wees met vergifnis en genade vir mekaar.”
Hugo het Stefaans se foon nommer in die hande gekry: sou Stefaans bereid wees om sy boodskap van “leef liefde” met Worcester te kom deel?
“Stefaans se eerste antwoord was dat hy nie as die held kan terugkom Worcester toe nie…mense en kinders is dood, en mense het seergekry, so hy sal net kan kom as hy geleentheid kry om aan sy slagoffers ook platform te gee om hul stories te vertel; en hy het gesê dat hy eers die idee wil toets by van die slagoffers.”
Hugo deel hoe die veldtog beplan is saam met plaaslike kerke en gemeentelede. “Dit was ongelooflik hoe die gemeenskap honger was vir hierdie inisiatief en boodskap. Almal het begin om in te spring en gehelp met die reëlings.”

Op Vrydag, 18 Oktober het die program afgeskop. Stefaans het vier plaaslike hoërskole in Worcester besoek: Worcester Gimnasium, HTS Drostdy, Hoërskool Breërivier en Hoërskool Montana. “Stefaans het kortliks sy lewensverhaal met hulle gedeel, maar hoofsaaklik die boodskap oorgedra om liefde te leef – selfs vir die boelie in skool – en die belangrikheid van die keuses wat hulle moet maak: dat hulle goeie keuses in die lewe moet maak, ten spyte van hul agtergrond en huidige omstandighede. Die boodskap was baie treffend gewees en die kinders was letterlik doodstil tydens die praatjie. Na die praatjie was daar geleentheid vir vrae en dit was ongelooflik om te sien met watter insig en deernis die kinders die praatjie ervaar en daarop gereageer het. Ek glo dit het ’n blywende verskil in hul lewe gemaak.”

Vrydagaand het Stefaans en vyf van sy slagoffers by die Maranatha Christen Sentrum gepraat, in ’n gesprek gefasiliteer deur Theo Mayekiso. Die publiek is genooi om hulle te hoor deel oor hoe ’n bomontploffing in Desember 1996 hulle lewens-paaie onverwags in ’n nuwe rigting verskuif het. “Daar was een dame wat openlik erken het dat sy nie vir Stefaans kan vergewe nie,” onthou Hugo. “Sy was ooglopend baie emosioneel gewees. Theo Mayekiso het dit opgesom dat die persoon wat nog soveel seer in haar hart saamdra en nie gereed is om Stefaans te vergewe nie, ’n goeie voorbeeld is van hoe baie Suid-Afrikaners se harte dalk nog daagliks is met wat hul ervaar. Wat spesiaal was van die aand, is dat dit so mooi was, ten spyte van hoe rou eerlik die getuienisse was, dat dit realisties en eg was. Ook die feit dat daar ook aan die dame wat nog nie gereed is om Stefaans te vergewe nie, ’n ruimte gegee is, dat daar nie enige verpligting op haar moet rus dat sy voel sy moet Stefaans vergewe nie en dat net sy sal weet wanneer die tyd reg is om hom te vergewe.”
Saterdag was ’n dag om Worcesteriete uit verskeie agtergronde bymekaar te bring. 350 vroue het bymekaar gekom vir oggendtee, en ongeveer 300 mans vir ’n middag geleentheid. Hier is hulle uitgedaag om te vra hoe verskillende gemeenskappe in Worcester mekaar kan leer vertrou en verstaan, deur praktiese aksies en ’n oop hart. Moeite is gedoen om te sorg dat vriende en vriendinne nie langs mekaar sit nie, maar dat almal meng in interaksies en gesprekke wat dalk nie gewoonlik sou plaasvind nie. Stefaans het sy getuienis gelewer en vrae beantwoord. By die oggendtee het elke vrou ’n praktiese belofte om liefde uit te leef op ’n klip geskryf en by ’n boom neergelê. Die mans is by hulle byeenkoms gevra om oor hulle rol as gemeentelid asook pa te dink.

Die veldtog het afgesluit Sondag met ’n massa byeenkoms. Die gemeenskap het saam deelgeneem in aanbidding en lofprysing, en kettings is simbolies geknip vir Worcester. Weer het Stefaans gepraat oor hoe om prakties liefde uit te leef.
“Die hele naweek is ’n droom wat waar geword het,” sê Hugo. “Ek glo die Here het Sy Hand oor die naweek gehou en was betrokke van die begin tot einde. Ek is seker daarvan dat Hy dié Sondag na Worcester gekyk het en geglimlag het van tevredenheid. Hierdie is nie ’n veldtog wat geloods is nie, maar is die begin van om ’n nuwe leefwyse te kweek. My droom is dat Worcester die baken van hoop, vergifnis, versoening en herstel kan wees en dat ons elke dag die keuse moet maak van Leef Liefde. My wens is dat Stefaans se verhaal almal se lewe so drasties verander het, dat ons sensitief teenoor mekaar sal lewe en geleenthede skep waar ons met mekaar kan gesels en versoening kan bereik en verhoudings kan herstel… Ons almal se lewe (dorp/gemeenskap en land) is honger vir liefde. Dit was so ongelooflik lekker om so ’n platform te kon skep, waar almal met dieselfde doelstelling bymekaar kom. Ons kon die liefde tussen mekaar voel en ek is dankbaar dat ek kan sê: Ek kon net droom… droom dat Leef Liefde ’n realiteit word.”
En wat lê nou voor? “Daar is verskeie versoeke van wat is volgende, maar op die einde van die dag kan Leef Liefde nie net aan byeenkomste gekoppel word nie,” sê Hugo. “Leef Liefde is ’n miljoen klein goedjies wat ons elke dag doen… met al die interaksies wat ons het, in ons huise, werksplek, gemeenskap ens. Leef Liefde begin by elkeen, op ’n daaglikse basis.”
