Oppad…Met Liefde

Die radio blaas – nuus oor nog ʼn aanval op buitelanders. En die rand het verswak teenoor die dollar. In die agtergrond huil die kinders. Dis laat, en hulle is honger, maar mama het nou eers by die huis gekom. En daar’s niks kos in die kaste nie. Ai! Sy sal moet baked beans by die buurvrou gaan vra. En dan die baba se doeke steriliseer. Sy’t nog nie eens kans gekry om haar asem te vang na ʼn uur op publikeke vervoer en ʼn lang dag in die fabriek nie – hoe lekker sou ʼn koppie tee nie wees nie! Maar die kinders –en, ô, die ketel is stukkend, en een van die stoele, en … Dis alles oorweldigend. “Liefde vir ons medemens moet ʼn leefwyse word,” hoor sy iemand op die radio sê. En sy lag saggies. Vasgevang in die spoed en ritme van daaglikse lewe, die druk van finansies, kinders en kos, die oorverdowende stemme van die media…waar, tussen al hierdie komponente van die tipiese dag, kan ons ons medemens inpas? Wie het tyd om by ʼn sop kombuis te gaan dien, of ekstra geld om aan liefdadigsheid te skenk? Is “Leef Liefde” dan nie net ʼn boodskap vir rykes, vir mense wie die sukkel en swaarkry en geraas van die gewone mens se lewe nie ken nie? Soos een vriendin dit gestel het, “Ek is nie Carolyn Steyn nie!”

Carolyn Steyn, vir een ding, sou nooit een oggend ʼn taxi moes vang nie. Maar Zenobia Jantjies moes.

“Gewoonlik stap my ma ʼn entjie saam met my tot by die besige N12, dus daar waar ek dan opklim om werk toe te gaan. En onderwyl ek en my ma daarie oggend stap sien ek hierdie ou lang Oompie en ek maak nog ʼn grap en sê vir my ma: Ek hoop net nie hy gaan ook nou ʼn taxi gaan klim nie [omdat dit so onverwags so wees]; en my ma sê vir my: Nee, jy moet dan reeds vir hom uitsort – min wetend,” vertel Zenobia (25) oor daai dag in Mei 2018.

“Ons albei staan toe en wag vir ʼn taxi om te stop en ek vra vir hom of hy taxi gaan klim en hy sê ja. ʼn Taxi het toe gestop en ek het hom toe maar gehelp om in te klim want jy moet verstaan hy is baie oud en baie stadig soos ʼn oumens veronderstel is om te wees.”

ʼn Ou wit man wat op ʼn taxi klim? Wel, OK, hy’s ook geen Carolyn Steyn nie, maar dis nie elke dag wat jy dit sien nie. En die ander mense in die taxi het dit opgemerk.

“Terwyl ons inklim sit ons sommer in die ry net agter die bestuurder en ek hoor ʼn onderlangse geguggel. Nou die menslike ding om te kon doen was om te guggel want dis baie skaars wat ʼn mens ʼn blanke persoon in publieke transport sien rondbeweeg. En ek raak onmiddelik geirriteerd want toe weet ek presies waaroor die gelag gaan. Wat by my opkom is die volgende : ‘Dit kon my oupa gewees het’ en ek draai onmiddelik om nadat ek hom gemaklik laat sit het en ek vra ewe vriendelik wat die grap is, dat hulle ook met my moet deel sodat ek ook saam kan lag. En niemand kon my antwoord nie, almal was skierlik stil.

“Terug gedraai en ʼn gesprek saam met ‘oompie’ begin voer. Ek vra toe vir hom waarheen hy oppad is so vroeg en hy sê vir my dat hy oppad is na ʼn Garage toe waar sy motor staan wat die voorige dag gestamp was, so hy wou gaan kyk wat hy uitgeruk kry. Vra toe vir hom waar sy vrou en kinders is en of hulle hom nie kon wegvat het nie, en hiers die sad deel, hy sê vir my sy kinders bly nie in Klerksdorp nie en dat sy vrou al 6 maande in die Hospitaal lê, net die masjiene wat haar aan die lewe hou. Ek vra toe vir hom of hy nog nie oorweeg het om die masjiene af te skakel nie,want sy lê dan al so lank sonder eenige verwikkelinge en hy sê vir my dat die Here nog nie vir hom gesê het dat hy die masjiene moet afskakel nie.”

En dis toe dat Iets Gebeur – iets binne Zenobia.

“Net daar kla die Heilige Gees my aan en die Here drop in my Gees dat ek saam met hierdie man moet Bid. Ek vra toe vir hom of ek ʼn Gebed saam met hom kan doen en hy stem gewillig in. En ek vat sy koue hande en ek begin Bid saam met hom maar terwyl ek so vir hom Bid voel ek hoe die Krag van God beweeg en terselle tyd hoor ek dat die mense in die taxi ook eendragtig word en hulle begin ook saam Bid, ek kon net vir die Here dankie sê vir daardie onmiddelike band van Liefde wat in daardie taxi ontstaan het. Ek meen niemand weet waaroor of hoekom ek vir hom moes Bid nie maar hulle het saam gebid.

“Klaar saam gebid en onmiddelik lui ‘Oompie’ se foon en dus toe die hospitaal wat hom wou sien want daar was toe nuwe verwikkelinge met sy vrou se toestand. En ek sê vir hom die volgende: Moet nie worry nie oompie alles sal orite wees, met ʼn glimlag :). Toe is ons binne die dorp en by my stop waar ek af moet klim en voor ek afklim sê die Taxi bestuurder vir my dankie vir daardie gebed dat dit nie net die oompie geraak het nie maar vir hom ook met trane in sy oë. En ek kom by die werk en ek deel saam met my kollegas wat sopas gebeur het en hulle kon dit nie glo nie, self gesê sulke goed gebeur net in die movies lol.

“En net daar toe besluit ek om dit wat gebeur het op my Facebook page te gaan share. Nooit in my wildste drome het ek gedink dit sal so wyd versprei nie. Elke keer wanneer ek oor hierrie gebeurtenis praat voel dit asof dit gister gebeur het.”

Zenobia en Oompie (Henry Labuschagne) in die taxi

Die Facebook pos het baie mense geraak en Zenobia en Oompie (wie se regte naam Henry Labuschagne is) het selfs in plaaslike media verskyn. Dis toe dat sy in aanraking met Stefaans Coetzee gekom het.

“Lol dit was nou vir jou ʼn snaakse onmoetting hoor…. Ons het so ietwat ʼn jaar terug in kontak gekom via Facebook en later nommers exchange en mekaar op Whatsapp geadd. Die hele storie het begin op FB; ek sou altyd van sy comments sien op FB waar hy sal vra dat ek sy koerantberig wat hy het van die storie moet teken. En hy’t my weer geinbox daaroor, ek het toe ingestem.”

Min het Zenobia geweet wat Stefaans beplan het!

“Onlangs het ek vir hom laat weet dat ek heelmoontlik uit Klerksdorp gaan vir ʼn rukkie, indien hy nog wou hê dat ek die berig moet teken. Ons het sommer onmiddelik die volgende dag onmoet. Min wetend dat hy besig was met iets so amazing soos die Award. 🙂 

“Hy het aan my genoem dat hy ʼn Award na my vernoem het as gevolg van die amazing getuienis. Ons het toe by Burger Rack onmoet in Klerksdorp en dis daar wat hy die amazing nuus saam met my gedeel het dat die award nie net na my vernoem is nie, maar ook dat ek die eerste wenner van die award is. Jiss ek was in trane, baie emotioneel gewees. Ver buite my verwagtinge. Was regtig amazing gewees,” deel Zenobia. Haar familie en Oompie was “super trots” op haar – “ Woorde het vir almal ontbreek.”

Zenobia ontvang die Zenobia Award van Stefaans Coetzee

Zenobia is nou ʼn ambassadeur vir die Leef Liefde projek. In hierdie posisie deel sy die boodskap van “Leef Liefde” met die gemeenskap, die boodskap wat sy eers in ʼn Facebook pos geskryf het nadat sy so onverwags vir Oompie ontmoet het: “Ek wil iemand bemoedig… Stop judging people who you don’t know – jy weet nie waardeur dai person gaan nie. Dan wil jy hom/haar nog afbreek. God loves each of us!! Sy woord bly eewig staan. Trust en Obey for there’s no other way.”

Oompie se vrou is toe ʼn paar maande later oorlede, maar, “Ag jitte, jah, hy sterk baie mooi aan,” sê sy. “Vandag noem hy my sy dogter en ek noem hom my oupa alhoewel hy altyd my Oompie sal bly.”

En so leef Zenobia ʼn voorbeeld van liefde. ʼn Gewone jong vrou wie, sonder enige spesiale voordele, liefde deel van haar daaglikse lewe maak. “Ons is op soek na mense soos Jantjies wat in hul gewone daaglikse gang spontaan liefdesdade verrig en wie se leefstyl van liefde spreek,” het Stefaans aan Die Burger verduidelik. Mense wie bewyse is dat jy nie Carolyn Steyn hoef te wees om liefde te kan leef nie.

Vir Zenobia, is dit eintlik baie eenvoudig. “Man … Ons was altyd geleer dat ons andere moet behandel soos ons self behandel sou wou wees/word.”

Print Friendly, PDF & Email