Strome lewende water

Dit het begin as ’n druppel in die hart van ’n jong gevangene…

Haat het Stefaans Coetzee se hart omring, soos donker wolke wat neerdruk en die lug verswaar. “[Ons]…het…’n ou swart vrou, wat voor die kafee op die stoep gelê en slaap het, gegryp. Een van die seuns het haar aan die voete getrek en teen die trap afgesleep. Haar kop het geklap-klap al teen die treetjies af…Dis onmoontlik om te sê hoeveel [sulke] voorvalle daar oor etlike maande was.”

Dik wolke haat is opgepomp met ’n donker dosis ideologie; Stefaans sluit aan by die Israel Visie groep. Die Bybel is in Stefaans se hande geplaas – sien hy dan nie sy eie haat in die swart op wit nie? Is die ritme van die woorde nie die wind wat die wolke blaas nie?

“ ’n Israeliet het met ’n vrou van ’n ander geloof geslagsgemeenskap gehad en Pinehas het ’n spies gevat en hom deurboor. Daarvoor het God vir Pinehas geseën. Ons het geglo dat God ons ook sal seën as ons iets soortgelyks doen…Jan het dit so aan my verduidelik: God het die wit mense in Suid Afrika uitgekies as sy eie uitverkore volk. Wat in daardie tyd in die land aan die gebeur was [demokrasie en die vermenging van wit en swart], was dus ’n euwel in God se oë…Ons sou God se wapen word om dinge om te keer.”

Die wolke het rigting gekry, oor die dorp van Worcester gekruip. Daar het hulle gehang, en in hul skaduwee is twee bomme op Russel straat geplant.

Dis die dag voor Kersfees, en Stefaans Coetzee is 19 jaar oud

Haat het fisiese vorm aangeneem, en in stukke glas en sement deur lywe en lewens gesny. Die reuk van bloed en rook het hemelsward gevloei.

“Dit is ‘n brandoffer aan die HERE; ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer is dit aan die HERE.” [1]

Maar die ontploffing van die bomme het meer as skerp stukke haat in mosie gestel.

Dit was die begin van ’n reis, vir Stefaans en sy slagoffers, ’n reis van swaarkry en sukkel, van rou en bekeer, van vergifnis en aangaan. ’n Reis van haat tot liefde.

Stadig het die druppel deur die wolke begin breek. Oomblike. Stemme…Die besef van die “vyand” se menslikheid…

“Insp Chris Engelbrecht, wat my in hegtenis geneem het, het my ook gereeld besoek terwyl ek verhoor afwagtend was…Hy het vir my sjokolade gebring en sy bes probeer om my te motiveer om weg te breek van die geweld…Die God van liefde sal nooit moord goedkeur nie, het hy beklemtoon…

“[Roger de Reuk het gesien] ek lees een van FA Venter se boeke in die Gelofteland-reeks. Hy sê toe vir my hy het pas die boek The Day Of The Jackal, van Frederick Forsyth, een van my gunsteling skrywers, gelees. ‘Dit is baie interessant, jy sal daarvan hou. Ek sal dit vir jou bring,’ het hy gesê. Dit het my verstom dat ’n bruin man, wat deur Jan en sy makkers as van ’n lae klas en ’n soort sub-ras beskou is, Forsyth se boek gelees en interessant gevind het…Skielik het ek met ander oë na Roger gekyk…

“Een van my nuwe vriende was Hans Louw, ’n bruin man…”

Weer is die Bybel in Stefaans se hande geplaas. Maar dis nie die Bybel wat hy gelees het nie. Nie die Bybel wat hom onder wolke van haat laat versmoor het en hom gestoot het tot die hoek van Russel en Adderley met ’n bom in sy hand…Hy kyk terug op die Bybel wat hy geken het, en die manne wat dit geskryf het..

“Hulle het…die Bybel verander om hul politieke sieninge te pas. Hulle het ook van die apokriewe boeke bygevoeg.”

Woede. Verwarring. Die wolke staan stil…maar hulle bly Stefaans se hart omhels…

Hy ontmoet vir Eugene de Kock. “Prime Evil”…Oom Gene…

“Hy het vir my gesê dat totdat ek ophou om ’n rassis te wees sal ek in twee tronke wees – een om my liggaam, en een om my hart.” [2]

“Jy kan ’n klip ook uiteindelik breek met water wat oor tyd aanhoudend daarop drup. Net so het oom Gene aangehou totdat hy my kliphart gebreek het. Druppel vir druppel. Dit was omstreeks 2002 wat ek tot die insig gekom het dat dit wat ek gedoen het, verkeerd was. Ek kon dit nie langer probeer weg-redeneer nie – die tyd het aangebreek dat ek die waarheid in die oë moes kyk.”

Meer druppels het gevolg…

Druppel vir druppel… Druppel vir druppel…

Stefaans en sy slagoffers ontmoet. Hulle kyk in mekaar se oë in. Oë kan deur die vlees boor, tot die siel reik. Oë kan diep sny en hul kyk kan lewens verander – nes stukke glas en sement. Olga Macingwane kyk in Stefaans se oë in.

“Sy sê, ‘Stefaans, wanneer ek jou sien, sien ek my suster se seun in jou, en ek kan jou nie haat nie.’ Sy hou haar arms uit. ‘Kom hier, seun,’ sê sy in Xhosa. Coetzee stap in haar omhelsing in. ‘Ek vergewe jou,’ Macingwane sê saggies.” [2]

Vergifnis was oor Stefaans. Helder, suiwer, skoon. Vergifnis maak die donker plekke van die hart skoon. Soos reën, bars dit deur wolke. Soos reën, bring dit nuwe lewe.

In Julie 2015 is Stefaans amptelik vrygelaat. Hy stap uit die tronk uit – maar die sleutel aan die tronk om sy hart is reeds jare terug in sy hande geplaas.

“As Jesus jou ’n tweede kans gee, behoort jou lewe aan Hom…Elke dag wat ek opstaan kan ek vir God sê dankie vir ’n dag buite, ’n dag wat ek in die tronk móés wees. Ek is vry!”

Die druppels wat deur wolke van haat gebreek het word nou ’n stroom.

“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”[3]

Die stroom vind ’n rigting, en nes die wolke van haat, wandel dit tot by Worcester. Maar hierdie keer is dit nie bomme wat geplant word nie…

Hugo Killian, Worcesteriet, tel Stefaans se boek op. “Ons almal smag na verandering,” vertel Hugo aan die Beeld. “Ons leef in ’n heeltemale abnormale samelewing waarin 20 000 mense per jaar in ons land vermoor word. Ons sien al hoe meer geweld in ons skole, ons wantrou mekaar, en selfs op sosiale media skroom ons nie om mekaar aan te val nie…hoe verder ek Stefaans se storie gekyk en sy boek gelees het, hoe meer het ek die refrein gehoor: leef liefde, in elke verhouding en in elke interaksie wat ons met ander mense het.”

Die Leef Liefde veldtog is gebore.

Hoe leef ons liefde prakties uit? Van 18 tot 20 Oktober sal Worcesteriete met hierdie vraag worstel. By drie plaaslike hoërskole sal Stefaans praatjies lewer, in oë kyk, soos Olga Macingwane eens in syne gekyk het. ’n Oop gesprek sal met van Stefaans se slagoffers gehou word, ’n vrouebyeenkoms en mannesaamtrek sal plaasvind, en op Sondag, sal ’n gesamentlike kerkdiens mense van alle rasse in welkom.

Die stroom van liefde het Worcester bereik. Maar lewende water bly nie stil nie. Dit wandel aan, kerf nuwe paaie deur die land. Kan ons ons harte oop maak vir hierdie stroom? Die Leef Liefde veldtog in Worcester is ’n’uitnodiging aan ons almal. Kom ons almal induik, almal die wandel van hierdie stroom volg.

“[O]ns dien..’n saak wat baie groter as enigeen van ons is,” sê Hugo Killian.

Kom ons almal hierdie stroom deur ons harte laat vloei. Kom ons elkeen daagliks liefde leef.

[1] Eksodus 29:18

[2] Uit die artikel “Mandela’s Children”, deur Alexandra Fuller, wat in die Junie 2010 uitgawe van National Geographic verskyn. Beskikbaar by: https://www.nationalgeographic.com/magazine/2010/06/south-africa/

[3] Johannes 7:38  

Alle ander aanhalings is uit Stefaans se boek, Wit Wolf (Tafelberg, 2019), wat hy saam met Alita Steenkamp geskryf het.